Hansieland

Entries categorized as ‘Geskiedenis’

Die Geskiedenis van Hansieland

Oktober 27, 2008 · Lewer Kommentaar

Die geskiedenis van die Hoërskool Hans Strijdom gaan terug na die Naboomspruitse Laerskool waaruit in 1951 ‘n groep II-skool, en later ‘n volwaardige hoërskool, gegroei het.

Vanaf Januarie 1956 het die skool sy eerste st 9 klas gehad, maar was nog steeds ‘n groep II skool.

In Januarie 1958 het die nuwe hoërskool amptelik ontstaan met mnr J.P. Malan, oudinspekteur van onderwys, as waarnemendehoof. So is die fondamente van die huidige hoërskool dan in 1958 gelê.

Die jong skool kon egter al spog met 270 leerlinge en dertien onderwysers. ‘n Ou woning op die laerskoolterrein is inderhaas ingerig om as kantoor en personeelkamer te dien, terwyl tydelike klaskamers opgerig is vir onderrig. Die laerskoolterrein is egter nog gesamentlik deur beide skole gebruik.

Intussen is ‘n begin gemaak met die oprigting van ‘n nuwe gebou op ‘n pragtige bosryke terrein aan Negende straat, weg van die rumoer van die “grootpad”af.

In 1959 word mnr P.W. Botes, hoof van die ou Groep II-skool aangestel as die eerste permanente hoof van die Hoërskool, wat natuurlik toe nog naamloos was. Daar is hard gedink en kopgekrap om ‘n gepaste naam en leuse vir die skool te kry. Hans Strijdom!!! Waar kon ‘n beter en pasliker naam verky word as die van die “LEEU VAN DIE NOORDE”?

In Januarie 1960 is die nuwe skoolgebou, wat byna voltooi was, betrek. Nou het die “groot trek” voorgelê. Vir dae lank het die trek vanaf die laerskool geduur. Al die klaskamers, o.a. die laboratoriums was nog nie voltooi nie, maar almal het uiteindelik nes geskop.

Die formele ingebruikneming het op 14 Mei 1960 plaasgevind. By hierdie plegtige gebeurtenis het Dr A.H. du Preez van Wyk, voormalige Direkteur van Onderwys, die gedenkplaat onthul. Mev Susan Strijdom, eggenote van wyle adv . J.G. Strijdom, het by dieselfde geleentheid die naam van die skool by die hoofingang onthul.

Vanaf 1962 word mnr S. Hirschen die volgende permanente hoof. As gevolg van ernstige droogte en ‘n krimpende voedingsarea, beleef die skool maer jare en daal die leerlingtal voortdurend. In 1963 word die moderne seunskoshuis in gebruik geneem en kon daar afskeid geneem word van die tydelike koshuise, wat gesloop is om plek te maak vir die huidige sportterrein.

Mnr D.E. Erasmus was die derde permanente skoolhoofvanaf 1965 tot 1980. In die tydperk het die skool stadig maar seker weer begin groei.Op kultuur- en sportgebiede is goeie prestasies gelewer.

Die nodige inspuiting om die skool te laat groei, het gekom met die instelling van die tegniese afdeling in 1973, en die leerlingtal opgeskuif na 436. Daar moes inderhaas werkswinkels opgerig word.

Groot dinge het op sportterrein plaasgevind! Planne vir die oprig van ‘n pawiljoen is opgetrek, waarna dit deur die ouers, onderwysers en leerlinge self opgerig is. In 1977 is die interhoër op ons eie atletiekbaan aangebied.

In 1974 is die nuwe werkswinkels betrek en 1998 was daar 680 leerlinge en 45 onderwysers.

Daar is besluit om te begin met die oprigting van ‘n sintetiese atletiekbaan, en op hierdie noot kon mnr Erasmus in Julie 1980 uit diens tree. In Augustus 1980 is mnr Pyper as hoof aangestel.

Na ‘n suksesvolle kermis in 1981 is die ou skoolbus vervang met twee kleiner bussies.

Tydens die S.A Junior atletiekkampioenskappe in Pretoria in 1983, behaal Elize van Vurren die eerste goue medalje in die skool se geskiedenis deur die Suid Afrikaanse rekord in die 300m hekkies te verbeter.

Na vele omswerwinge kon die Pyper-gesin die nuwe hoofswoning op die skoolterrein in Julie 1982 betrek. In Julie 1985 neem die skool en gemeenskap afskeid van die Pyper gesin.

Die adjunkhoof, mnr A.J. Trollip, neem waar as hoof van Augustus 1985 tot Maart 1986.

In April 1986 word mnr F.M. von N. Hansen – oud-Hansie- die skool se vyfde permanente skoolhoof.

Die skoolsaal is in hierdie tyd gerestoreer en die portaal toegebou.

Gedurende September 1986 word die skool die trotse wenner van die administrateurstrofee vir eenbedrywe in Transvaal.

Die onthaallokaal by die stadion is in Februarie 1987 voltooi, en ‘n kraggimnasium is in dieselfde jaar onder die pawiljoen ingerig. Gedurende 1991 is die nuwe kantoorgeboue voltooi en in gebruik geneem, terwyl die skietbaan ook ‘n metamorfose ondergaan het.

Gedurende September 1991 verneem die skool met leedwese van die afsterwe van Mnr Eddie Pyper, ‘n vorige hoof.

In 1992 word Piet Pretorius, die skool se eerste Springbokrugbyspeler.

Gedurende November 1993 is die skoollapa voltooi, en in dieselfde jaar word daar ook begin met die HANSIES Rugbyweek, wat die beeld van die skool wyd en suid uitdra.

Gedurende 1996 verower die 0/16a hokkiespan die Direkteurstrofee, terwyl die 0/15A naaswenners van die Direkteurstrofee was. In 1997 word die Hansies gekies om aan die nuwe Super 12 reeks vir hoërskole deel te neem.

Mnr Hansen tree aaan die einde van 1999 weens mediese redes uit die onderwys, en mnr Willem Brummer neem gedurende 2000 as hoof waar. Dit is ook die jaar waarin die dogters in Hansieland begin krieket speel het.

Aan die iende van 2000 is mnr Brummer aangestel as skoolhoof by hoërskool J.B.M. Hertzog in Witbank en mnr C.J. de Wet neem vanaf 2001 by hom oor as waarnemende hoof.

Die eerste rugbyspan het in Junie 2001 na Australië getoer, aan die “Gold Coast Rugby Carnival” deelgeneem. Gedurende 2002 begin die harde werk aan ‘n nuwe sintetiese atletiekbaan.

‘n Suksesvolle revue is ook gedurende hierdie jaar aangebied.

Mnr G Klopper is op 1 Januarie 2003 aangestel as Hansieland se sesde permanente hoof, en sommer wegggespring met ‘n Interhoër op Potgietersrus waar die skool die Prestasiebeker gewen het.

Die Hansieweek was weereens ‘n reuse sukses, waaraan ‘n Austaliese skoletoerspan ook deelgeneem het.

In 2003 het die matrieks ‘n 100% slaagsyfer behaal, en is die eerste talentaand in die skoolsaal aangebied.

Die skool se entrepeneurs, die “Young Tycoons” was die algehele wenners met hul “Chick-on-a-stick” projek. Die eerste hokkiespan (2005) en 0/16 rugbyspan (2004) het onderskeidelik in 2005 en 2004 toere na Argentinië onderneem.

Tydens die interhoër in 2004 is die nuwe sintetiese baan amptelik geopen en aan die einde van dieselfde jaar is die Noptru gimnasium ook geopen.

‘n Provinsiale rugbywedstryd is gedurende 2006 op die skool se veld gespeel, toe die Valke teen die Limpopo amateurspan te staan gekom het.

Gedurende die hansieweek in 2007 is vir die eerste keer TV opnames van die rugbywedstryde wat op die A-veld gespeel is, gemaak. Hierdie wedstryde is later op supersport1 uitgesaai.

Die 0/16 hokkiespan speel in 2008 in die finaal van die Noordvaaltrofee, wat ‘n puikprestasie is!

Kategorië Geskiedenis